Tema:

Wees die verskil

Produk: 

Sojaboon

Projek:

Gee kinders vreugde om te leef

Kunstenaar van die jaar:

Ingrid Baggeröhr

Persoonlikheid:

Dr. Wietske Boon

Bome van die jaar:
Melkhout en Tambotieboom

VLU Noord Omgeeprojek:

Omgeepoppies

Kunstenaar van die jaar

Ingrid Baggeröhr

Ek is gebore en getoë in Pretoria.
My pa was baie kunssinnig en het dikwels houtsnywerk gedoen. dit het my
gefasineer en geinspireer en kort voor lank het ek dit ook begin doen. Ek was destyds in st. 5 to ek die eerste keer houtsnywerk aangepak het.

Ek het my hoërskool aan Pro Arte in Pretoria afgesluit, waarna ek ‘n 4 jaar BA graad in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria behaal het, met Beeldhou as my hoofvak. By die destydse TRUK het ek my eerste werk as rekwisiete maker begin. Dit het my blootgestel aan nuwe materiale wat vir beeldhou gebruik kan word. Na die geboorte van my eersteling, het ek by die Polisie se kuns afdeling in openbare betrekkinge gewerk.

Hier het ek ‘n lewensgrote beeld van ‘n Ruiter Standbeeld saam met die brigadier van die afdeling onderneem. ‘n Paar jaar later het ek na die weermag se kuns departement oorgeskuif. Hier is ek versoek om te gaan leer hoe om brons te giet. Die gietery het my toe ‘n pos aangebied, en het ek hiermee die weermag verlaat.

As gevolg van my betrokkenheid hiermee, is ek toe in kontak gebring met die maatskappy wat verantwoordelik was vir die opbou en kunswerke van die Paleis en Water Park in Sun City. Hierdie was die deurbraak na verdere kommissies by ander groot Casinos in Suid Afrika.

Die grootste projek tot hede wat ek nog aangepak het, was die Golden Horse Casino, in Pietermaritzburg, met ‘n kollose Pegasus beeld van oor die 14m hoog, sowel as ‘n series van ander lewensgrote perde en relief werke. Oor die laaste jare het ek ook konsentreer om meer gereelde privaat werke aan kliente te doen, en is my werke nou ook in privaat uitstallings in ander lande te sien, onder andere, Duitsland, Japan en Kanada.

Ek het verskeie pryse gedurende my loopbaan ontvang, soos die ‘New Signature’, Beeldhouer van die Jaar en tweemaal agtereenvolgende algehele wenner van ‘Kunstenaar van die Jaar’ by die kunsvereniging van Centurion.

Huidiglik het ek weereens ‘n groot kommissie ontvang deur die regering van Botswana, vir die maak van spesifieke werke. Hierdie sluit in ‘n 1.3m grote Borsbeeld van Koning Schechele 1, sowel as ‘n reuse voet en enkel.  Verder doen ek nog werk vir myself, en kleiner kommissies vir spesifieke werke soos aangevra.

Baie Groete – Ingrid

Persoonlikheid van die jaar

Dr. Wietske Boon

Niemand van ons bly op ‘n (spreekwoordelike) eiland nie. Ons is gemaak om as gemeenskappe te funksioneer. In hedendaagse terme is ‘n gemeenskap nie meer area gebonde nie, omdat tegnologie ons sirkels soveel wyer maak. Daar is baie te sê oor tegnologie, een daarvan is dat daar baie inligting tot ons beskikking is, maar dat die inhoud nie noodwendig van pas, van toepassing of korrek is nie. Een voordeel van tegnologie is egter dat gepaste inligting ons ook kan bereik op enige plek in die wêreld. Op dié manier, terwyl ek my area gebonde gemeenskap kan bedien deur terapeutiese intervensie, ouerleiding en verskillende opleidingsgeleenthede, kan ek ook ouers, grootouers en onderwysers bereik deur gedrukte en aanlyn artikels en boekpublikasies. In die laaste jare het aanlyn seminare ook vir my ‘n realiteit geword.

In ‘n gejaagde samelewing, met baie opinies en opsies wat ons soms oorweldig, is ouers soekend na ondersteuning, leiding en bevestiging dat hulle ouerskap reg aanpak. As ‘n werkende ma verstaan ek die fyn balans wat dit behels om al die balle in die lug te hou. Soms beleef ons uitdagings soos trauma, onsekerheid en groot veranderings. As ma wil ons hierdie situasies reg hanteer ter wille van ons kinders
se welstand. Die lewe gebeur, en ons kan hulle nie beskerm teen alle swaarkry nie. Wat ons wel kan doen is om geborgenheid te skep, liefde te gee, hulle te koester en seker te maak dat hulle die vaardighede ontwikkel om ook die swaarkry tye te hanteer. Hiervoor het ons as ouers soms ondersteuning nodig in terme van ons eie emosionele welstand, maar ook inligting om ons toe te rus vir die taak.

As spesialisberader, wat spesialiseer in vroeë kinderontwikkeling en spelterapie, hoop ek om ons jongspan se welstand te bevorder deur terapeutiese intervensie en ouers en onderwysers toe te rus vir die taak wat hulle op hande het in die groot maak van ons jeug.

Vir meer inligting en artikels sien:
http://childtherapist.co.za/afrikaans/index.html
http://www.dieweg.co.za/artikelkategorie/artikelsA5.shtml

Produk van die jaar

Sojaboon

Jannie en Riette

Ons bly op die plaas, Leeuwpoortjie. Dis die familieplaas sedert Jannie se oupagrootjie Willem Bierman, die plaas in 1950 gekoop het. Ons is die 4de geslag op die plaas. Die fabriek is ook op die plaas.

Ons vervaardig drooggeroosterde sojabone wat in bredies en soppe gebruik kan word of fyngemaal kan word en in smoothies of souse, om vleis verder te laat gaan, volledige maaltye en selfs as smeer (neutbotter) geniet kan word. Die gebruik van ons drooggeroosterde bone is legio.

Dis die ideale oplossing vir voedingskemas, ouetehuise, kinderhuise, hospitale – enige plek waar mense op grootmaat gevoed moet word en heilsame kos moet kry wat hoog in proteïene en voedingswaarde is.

Heelgeroosterde sojabone is die goedkoopste proteïenbron in die wêreld. Ons sojabone is ‘n “complete” proteïn, wat al 9 amino-sure bevat.

Verder vervaardig ons ook heerlike sojaneute as peuselhappies, wat gebruik kan word in stafies, beskuit, slaaie, ontbytgrane of sommer net so eet.

’n Rou sojaboontjie is nie vir menslike gebruik geskik nie, weens die aanwesigheid van Antitrapesien. Die enigste manier om dit geskik te maak, is deur verhitting.

Ons rooster die bone om van die Antitrapesien ontslae te raak, maar in die proses verander drie molekules binne die boon en gee dit ’n heerlike neuterige smaak. Ons verwyder nie die doppies nie, so jy het 17% vesel, 36% proteïene en boonop ’n glutenvrye en cholesterolvrye produk. Dis ideaal vir kanker pasiënte en Diabete.

Omdat ons bone met bone vergelyk en nie met vleis nie, verander die storie heeltemal en begin mense die waarde van soja raaksien.

Bietjie oor onsself :

Ek was op Kokkedoor, ons het ons eie TV reeks van 13 episodes, “Oja dis Soja!” uitgebring (Betaalkanaal, Net-Afrikaans). Ons was al op verskeie TV programme, onder andere, Landbouweekliks, Bravo, Groot Ontbyt, Pasgetroud (ons was meer as eenkeer daarop en het nie eenkeer self getrou nie, maar wel kos gemaak). Daar het artikels in Landbouweekblad, Farmers weekly, Grond tot Mond verskyn oor ons
produkte.

My kosstories begin by my ouma se liefde vir kos, wat sy oorgedra het aan my. Ek is ‘n resepontwikkelaar en kosliefhebber. Ek ontwikkel resepte wat bekostigbaar en smaaklik is. Ek doen ook resepontwikkeling met ons bone vir spesifieke kulture en smake reg oor die land. En so raak die kampie wat die voordeel van sojabone vir menslike gebruik besef, stadig maar seker al voller.

Ek het Jannie raakgekook met ‘n kook kompetisie, Queen of the Kitchen. Alles het net van daar af vorentoe gegaan. Jannie is eintlik ‘n Opmeter van beroep, (dis hoekom hy so goed was om die pad na my hart te kon bou). Hy het in 2017 teruggekom plaas toe en die fabriek opgerig.

Hy hanteer die produksie, ken die geskiedenis en is die papierman. Ek is bevoorreg om die lekker werk te doen (kos maak!!) Ons tree saam op sodat mense na ons mooi en lekker stories kan luister en proe. Saam maak ons ‘n ONGELOOFLIKE GREAT span.

Omgeeprojek 2025

Omgeepoppies

Corinne SandenberghGee kinders die vreugde om te leef.

Ek was dwarsdeur my getroude lewe betrokke by gemeenskapsprojekte wat betrekking het op die armes – veral mishandelde vroue en kinders.

Ek het saam met die polisie se traumakamerberader gewerk, ook in die howe met vrywillige berading en saam met die munisipaliteit om ‘n veilige huis in Stellenbosch vir mishandelde vroue en kinders te vestig.

Ek was in die stadsraad van Stellenbosch en het in 2008 ‘n Veilige Huis vir mishandelde vroue en kinders gestig, wat teen 2009 ook slagoffers van mensehandel ingeneem het.

ONS het STOP NGO (Stop Trafficking of People) in 2009 gestig en is sedertdien aktief betrokke by bewusmaking in skole en alle ander instellings en het reeds meer as 40 000 kinders met ons program bereik. Ons het ook die polisie en Nie te koop bygestaan ​​met reddingsoperasies en slagofferbystand in die huise van veiligheid gedoen.

Ons het ook ‘n nasorgprogram vir slagoffers van mensehandel, wat hulle terug in die samelewing integreer met ordentlike werk en ondersteuningstelsels. Ons het ook met binnelandse sake en immigrasies gewerk en gehelp om slagoffers van mensehandel terug te kry na hul eie nasie.

Tans werk ons ​​in SA en in die buiteland saam met verskeie organisasies om mensehandel in SA en Wêreldwyd te bekamp deur voorkomings- en bewusmakingsprogramme in skole en ander instansies te doen.

Tans bedryf ons ‘n lewensvaardigheidsprogram vir prostitute wat die bedryf verlaat.
Ons het in 2013 begin en is ‘n ten volle gevestigde NPC/NPO-opleiding wat vroue toerus en bemagtig om hul waardigheidsidentiteit en -bestemming te herstel.

Ons gaan die jaar aanhou om die omgee poppies te hekel vir hierdie kinders.

Omgee poppies se patroon

© 2017 Copyright - VLU Noord