• Gekoöpteerde Ampte

TESOURIERE

Algemeen:

Noodsaaklike boeke: kasboek en kwitansieboek, waarop twee bestuurslede terselfdertyd moet teken.

Reik dadelik ń kwitansie uit vir alle gelde ontvang.

Hou fondse veilig en bank so gou moontlik.

Hou lêer met volledige bankstate en tjeks (indien nog gebruik) bewys van EFT betalings.

Rekwissies is baie belangrik.

Bankdeposito’s moet ooreenstem met die bedrae op kwitansieteenblaaie.

Voorsien ń jaarlikse finansiële verslag aan die voorsitster om by haar verslag in te sluit.

Tydens u maandelikse spreekbeurt by die vergadering, moet u die saldo’s kan verskaf.

Enige lid mag te enige tyd vra om u boeke te sien.

ń Begroting moet realisties saamgestel word en voorsiening maak vir die afgevaardigdes na konferensies en kongresse (word tydens Januarie vergadering  voorgehou).

Behartig ledelyste en oorbetaling van ledegeld.

  1. Oorbetalings: Aan die Organisasie (uitgemaak aan VLU Noord nadat faktuur uitgereik is)
  2. Ledegeld einde Mei en einde Oktober.
  3. Kongresfooie soos bepaal deur die UB
  4. Enige ander Organissie projekte-gelde
  5. Advertensies vir die Kremetart
  6. Metaalvoorraadgelde
  7. Oorbetalings: Aan die streek – word uitgemaak aan VLU ……………… streek
  8. Streeksfooie soos bepaal deur die dagbestuur
  9. Konferensiefooie in Februarie
  10. Enige ander projekte wat deur die dagbestuur gereël word.

Algemeen:

Alle inbetalings aan streek | VLU Noord  – stuur depositovorm en inbetalingsbewys aan tesouriere met duidelike uiteensetting van wie en waarvoor.

1. Oorhandig alle takeiendom aan opvolgster.

2. Verwittig bank van nuwe tesouriere.

3. Verkry tekenregte vir opvolgster.

4. Verduidelik boekhouding aan opvolgster.

5. Let op sperdatums vir betaling aan hoofkantoor en streek.

6. Die finansiële jaar sluit 31 Desember. Geouditeerde finansiële verslag word saam met voorsitsterverslag aan streekvoorsitster besorg.

7. ‘n Faktuur sal vanaf hoofkantoor ontvang word alvorens ledegelde, metaalvoorraadgelde en kongresgelde inbetaal word. Stuur slegs die voltooide vorms met die nodige inligting na die persoon verantwoordelik, waarna die faktuur uitgereik sal word.

Skakelbeampte:

‘n Skakelbeampte verkoop die beeld van die organisasie! Sy moet seker maak dat alles wat die tak reël, saamgaan met die beeld, visie, missie en doelwit van VLU Noord.

Berigte vir die Kremetart:

Nuus oor takgebeure word voor die betrokke sperdatums aan die betrokke Streekskakel gestuur. Dit is nie ń verslag oor alles wat die afgelope maande in die tak gebeur het nie, maar iets nuuswaardig of die hoogtepunte van vergaderings. Slegs een insident, interessant aangebied, is belangriker as ń opsomming van alles wat gedoen is.

Wees verbeeldingryk en stuur artikels waarin die ander lede ook sal belangstel.

Stuur gereeld berigte in, nie net voor sperdatums nie. Indien ń berig nuuswaardig en interessant is bv ń toespraak of besonderhede van ń uitstappie, kan dit selfs as aparte berig publiseer word en nie net as taknuus nie.

Die REDAKSIESPAN behou die reg voor om berigte/ artikels te redigeer, te verkort en ook die reg tot publikasie.

Twee uitgawes jaarliks met sperdatums in Maart en September.

Wenke:

Waak teen hoofletters – voorsitter, mev, kongres, ens is met kleinletters in ń berig.

Punte word nie meer gebruik nie. V.L.U. of bv. of m.a.w. kry nie punte nie, dws VLU bv en mnr W L Louw. In Afrikaans word mnr en mev met kleinletters geskryf, maar in Engelse kopie met hoofletters.

Daar word nie van ń  vise gepraat nie, maar altyd van ń  visevoorsitter.  Geen koppelteken word meer gebruik nie.

In Afrikaans word berigte in die teenwoordige tyd geskryf, maar in Engels in die verlede tyd.

ń Dekbrief word nie op dieselfde vel papier as u berig aangebied nie.

Verskaf die outeur se naam onderaan elke berig, asook die fotograaf se naam by elke foto.

Aanhalings, versies ens mag weens kopiereg  nie sonder toestemming publiseer word nie.

Waak teen ge-ykte terme soos puik konferensie, ens.

Waak teen herhaaldelike gebruik van dieselfde woord of aanvangswoord in sinne, bv baie mense hou baie daarvan. Sy besluit nog. Sy wou eers gaan uitvind. Sy sal môre antwoord gee.

Stuur wenke, nuwe idees vir rubrieke, gedagtes vir kompetisies, ens aan die redaktrisespan Raak self aktief betrokke by u blad. As u entoesiasties raak oor ons blad, sal u die lede ook kan motiveer om saam te skryf en te lees.

Leer ken u lede. As iemand navraag doen vir ń moontlike spreker, moet u genoeg kennis van jou lede hê om iemand te kan aanbeveel. Dit is ook noodsaaklik vir die skryf van huldeblyke/ meelewing.  Stuur huldeblyke of meelewing artikels so gou moontlik na die president.

Moenie huldeblyke in ander artikels vervat nie, want dit verskyn apart in die blad.

Geen koerantknipsels, afskrifte  of inligting/foto’s  wat inskandeer word, is geskik vir plasing in die Kremetart of in die media nie.

Foto’s:

Fotografie is ń medium tot kommunikasie. Goeie foto’s ding met mekaar mee op ń bladsy. Neem dus treffende foto’s wat ń storie vertel of die storie aanvul en komplimenteer.

Waak teen foto’s sonder mense daarop, bv net ń koektafel. Neem liefs ń foto met vier mense op as ń groot groepfoto waar mens verward raak met baie name.

Stuur slegs een foto per berig. Spasie is beperk. Selekteer self wat vir u van belang is. By spesiale funksies soos konferensies en takverjaardae kan meer foto’s gestuur word.

As u nog foto’s per pos stuur, merk foto’s agterop met permanente pen bv foto no 1. Foto’s wat opmekaargeplaas word se ink vloei oor die gesigte in ander foto’s, wat dit onbruikbaar maak.

Heg elke foto se byskrif apart aan die betrokke foto bv ‘Foto 1 Sannie Botha, wenner van kongres 2014’.

As u foto’s per epos stuur, hou dit apart van berig

Sorg dat die fotokwaliteit goed is. Foto’s wat uit fokus of onderbelig is, kan nie gebruik word nie.

Moenie te ver van die foto-onderwerp staan nie. Pas die onderwerp behoorlik in die raampie, sonder ń steurende agtergrond.

Foto’s van mense word kop-en-skouers geneem, of tot by die heupe, hande ingesluit of totale vollengte, voete ingesluit.

Leer ken jou kamera en bewaar VLU geskiedenis!

Plakboeke / Albums

Plakboek / album is ń weergawe van die geskiedenis en werksaamhede van ń tak/ streek/ provinsie wat op ordelike wyse saamgestel en bewaar word. Plakboeke is takprojekte. ALLE lede behoort inligting vir bewaring te versamel en aan die skakelbeampte te gee.

Knipsels, foto’s en berigte uit die Kremetart wat op die tak of sy lede betrekking het, word vir die plakboek gebruik.

In die plakboek moet duidelik getoon word hoe die VLU Noord tema en projek uitgelig/ toegelig is.

Die takbetrokkenheid by ander projekte word ook hierin vervat.

Foto’s moet geskiedenis weergee, duidelik wees, met onderskrifte. ‘n Foto sonder ‘n onderskrif vertel geen geskiedenis nie!

ń Plakboek moet die tak se karakter weerspieël. Te veel versierings is steurend. Onderskrifte moet duidelik leesbaar en netjies geskryf of getik word.

VLU Noord argrief:

Dit word van skakelbeamptes verwag om op deurlopende basis inligting, dokumente, artikels, ens vir die VLU Noord Argief te verskaf.

Enige inligting sedert die ontstaan van VLU Noord in 1995, moet asseblief aan hoofkantoor versend word:

Provinsiale presidentes: geskiedenis, foto’s, CV, ens. As u so ń persoon in u tak of streek het, stuur enigeiets oor haar na die argief.

Streekvoorsitster: Alle moontlike inligting/ geskiedenis oor huidige en vorige streekvoorsitsters – versamel en stuur na die argief.

Streekgeskiedenis: Stigting, belangrike gebeure, ens.

Takgeskiedenis: Stigting, hoogtepunte, uitsonderlike prestasies/ projekte, bestuur deur die jare, stigterslede, uitstallings, skoue, ens.

Kongresse: Foto’s van eregaste, sprekers, programme, wenners, ens. Konferensies: Soos by kongres genoem

Kompetisies: Provinsiale wenners, Geborgde kompetisies pryswenners, ens.

Projekte wat takke en streke aangebied het.

Beurshouers: Foto’s van student en wat hulle nou doen.

SAVLU: Afgevaardigdes, kongresse, wenners, ens.

WBPV: Afgevaardigdes, donasies, projekte, ens.

Vaandels: Streke, takke, geskiedenis, deur wie ontwerp en uitgevoer, ens. Simboliek daaraan verbonde, ens.

Silwer-, goue- en diamantvierings: Takke en streke.

Interessante korrespondensie: Briewe/ foto’s van hooggeplaasdes en korrespondensie.

Skakeling: met ander organisasies soos Kreupelsorg, Kansa,  kinderhuise, ens.

Algemeen:

Skakel asseblief alle selfone af voor u ń vergadering bywoon.

Bedank sprekers of kunstenaars na behore en nie met ń koekie seep as geskenk nie, maar met reisvergoeding of voorafooreengekomde fooi. Gee ń ferm handdruk en bedank die persoon formeel.

Reëls vir voorstelling:

ń Jonger persoon word aan ń ouer persoon voorgestel.

ń Man word aan ń vrou voorgestel.

ń Gas word aan ń gasheer /gasvrou voorgestel.

Iemand sonder ‘n amp, word aan ń persoon met ń amp voorgestel.

Moet nooit sê: “Julle ken mos almal vir ds Jan” nie – stel hom behoorlik voor as ds Jan de Beer van die NG Gemeente Aasvoëlkop.

Plasing aan hooftafel:

Die voorsitster sit in die middel.

Die sekretaresse sit aan die voorsitster se regterkant.

Die tesouriere sit aan die voorsitster se linkerkant.

Die visepresidente sit regs van die sekretaresse.

Gas no 1 sit regs van die visepresidente.

Gas no 2 sit links van die tesouriere.

Res van bestuur aan beide kante.

Instap met baniere:

Daar word ingestap in volgorde van minder belangrik na belangrik, dus stap die belangrikste persoon heel agter.

Gee van geskenke:

Moet nooit sê: “Hier is ‘n klein blykie van waardering” nie. Dit dui daarop dat u die persoon minderwaardig ag/ nie moeite gedoen het om iets behoorliks te koop nie/ al wat persoon vir die organisasie werd is.

Wanneer geskenk oorhandig word, sê liewer: “Ontvang hierdie as blyk van waardering vir u tyd/vir u bydrae tot ons oggend/vir die baie spesiale hantering van die jaartema.”

Indien u enige ander besonderhede of inligting benodig, is u welkom om VLU Noord se hoofkantoor te kontak.

© 2017 Copyright - VLU Noord