Granaatpluk is soos trou!

Klaas Niemandt

Correspondent Alex Lombaard | Saturday, 08 April 2023, 08:30
https://www.graaffreinetadvertiser.com

RUBRIEK – Dou voor dag gebeur die ongewone: Oom Klaas besoek mý op mý werf. By die hek talm
hy by die granaatboom… koester behoorlik elke granaat aan die boom.

Dis ‘n dag vol verrassings – daar by die granaatboom begin neurie hy ‘n deuntjie!
“My nooi is in ‘n nartjie
My ouma is in kaneel
Daar’s iemand … iemand in anys
Daar’s ‘n vrou in elke geur”

Hy stap nader en sê: “Hmm… Opperman het reg gehad om in Sproeireën ‘n vrou te vind in elke geur,
maar dankie tog hy het granaat gelaat vir my!”

Of ek vir hom ‘n paar granate kan pluk vir saamvat huis toe, kyk hy my opreg geskok aan: “Neeeeee,
Boeta, nee-nee-nee. Eerste twee goed van granaatpluk: jy pluk nie vir ‘n ander man ‘n granaat nie, en jy
pluk ook nie meer as een op ‘n slag nie! Granaatpluk is soos trou – jy doen dit self en jy doen dit ordentlik,
met verdrag en respekte, hoor jy.”

Oom Klaas sien ek volg nie heeltemal nie. “Jy het my eendag gevra hoekom ek my vrou, Dina, noem
terwyl dit nie haar naam is nie, en ek het gesê ek sal jou nog antwoord, onthou jy? Ek het gereken ek sal
jou vandag kom antwoord. Maar nou sien ek, ek sal jou eers moet vertel oor die pluk van ‘n granaat. Dan
sal ek jou volgende keer vertel oor die vrou in ‘n granaat en eers DAN sal ek jou kan antwoord oor Dina.”

Hy beduie my terug granaatboom toe.

“Die Skepper het mos die granaat gemaak vir die man sodat hy vir vrou kan probeer begryp. Eers as jy
granaatpluk verstaan, sal jy die lewe saam met jou vrou elke dag waardeer, sien jy. En die grootste
geheim: die regte granaat raak beter hoe ryper hy word. Om ‘n granaat te pluk vir sy mooigeit buitekant,
gee geen waarborg dat dit ‘n ryp granaat is nie; ook nie dat hy lekker gaan wees nie. Kom, kyk nou hier,
sien jy hierdie een hoe hy gelerig is met die pienk-rooierige blos? Volrond uitgeswel – lyk pragtig
belowend, né.

Die skil buite is nog nie heeltemal dun en hard nie. Maar kyk sy skadukant: groen. En dan kyk jy nou aan
sy onderkant. Sien jy hoe sy punte nog oop van mekaar is? Jy kan hierdie een pluk, want hy is groot,
rond, mooi en die kleur is uitnodigend.

Maar díe kan ek jou waarborg: hy is nog nie ryp nie, en as jy hom pluk, sal jy voel hy
pluk swaar. Sy pitte sal pienk wees in plaas van dieprooi. En die regte soet lê in die
dieprooi pitte.”

Oom Klaas wys na ‘n ander een. “Nou kyk nou hierdie een – hy is nie meer heeltemal rond nie, sien jy.
Kyk die punte onderaan: toegetrek teen mekaar. En kyk hoe hy regdeur die dieper blos het en sy
skadukant is geel. Die skil is dunner, brosser; jy voel hom sommer. Nou DIS ‘n ryp granaat! Nie meer so
mooi en rond soos daai ander een nie. En hierdie een kan jy sien hy begin naat maak waar hy gaan
oopbars. Nou soek jy vir ‘n klein swart kolletjie hier of daar en as daar niks is nie, is jou granaat gesond en
reg vir pluk en geniet. Hy sal ook skoon van die stam afpluk. Perfek reg.

“Sien jy hoe jy jou tyd moet vat en aandag gee om ‘n granaat te pluk? ‘n Man wat weet, pluk nie granate
sommer net oor pluk, pluk is nie. Jy doen moeite. ‘n Groen geplukte granaat raak nie later ryp nie – hy bly
groen en raak later net onsmaaklik.”

Oom Klaas haal sy oë nie weg van die laaste granaat wat hy vir my uitgewys het nie. “Nou toe, siende dat
ek jou nou nog nie oor Dina kon vertel nie, sal ek hierdie een vandag pluk en saam met Dinatjie loop
geniet, dankie. Sien jou volgende week – dink solank oor die vrou in elke ryp granaat!

“My nooi is in ‘n nartjie

My lewensmaat in granaat…”

© 2017 Copyright - VLU Noord