Welwillendheid 2022- SPITSKOP SPESIALE ONDERWYS SKOOL
SPITSKOP SPESIALE ONDERWYS SKOOL word besoek deur Vroue Landbou Unie op 17 Mei 2022. VLU Northam bedank VLU Noord vir die welwillendheidsfonds se skenking waarvoor aansoek gedoen is sodat daar teruggeploeg kan word in die gemeenskap. Northam taklede tesame met VLU Noord President, Ria Strydom, en Bosveld Streekvoorsitter, Riana Oosthuizen, het die oorhandiging bygewoon. Hierdie skool is geleë te Thabazimbi en eerste van sy tipe in die Waterberg Distrik sedert 11 Februarie 2013.
Hulle is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en dus afhanklik van donasies en fondsinsamelings. Die skool sorg vir stimulasie en opleiding aan 53 gestremde kinders tussen die ouderdom van 3 en 17. Buitelug aktiwiteite en ontwikkeling is dus vir hul van groot belang.
Kinders word onderrig in Engels en Afrikaans en Tswana. Dit bied ‘n stimulasie sentrum, nie-verbaleprogram, lae funksieprogram, vroeë kinderontwikkelingsprogram en akademiese program (aangepaste Caps Curriculum). Ekstra programme is fisioterapie, arbeidsterapie, buitenshuise stimulasie, rekenaars, voedingsprogram en dagsorgprogram.
Die skool volg ‘n holistiese benadering in hul poging om elke eiesoortige uitdaging per kind aan te spreek. Hul strewe daarna om hul leerders te ontwikkel na die beste van sy/haar vermoeë. Elke leerder ontvang dus hier die geleentheid om hul regverdige plek in die gemeenskap en omgewing vol te staan waarin hul geliefd, gewaardeerd en veilig kan voel.
DIE PERSONEEL: Tydens ons besoek as Vroue Landbou Unie lede is ons aangeraak deur die besondere, spesiale personeel wat hul kennis in liefde aanwend en met toewyding elke dag hul taak verrig. Dit word weerspieël in die feit dat van hulle bereid is om hul privaat vervoer beskikbaar te maak en die leemte daarin te vul. Hul skroom nie om te erken dat hul taak hul fisies en geestelik uitput nie. Hulle meld dat hul elke dag uitsien daarna en hul entoesiasme is aansteeklik.












